Nagmerrie ondervinding
Ek wil graag met hierdie brief ander inwoners van Ermelo waarsku teen ‘n tweedehandse motor handelaar in Ermelo.
Ons het Desember 2010 ‘n tweedehandse voertuig by hom gekoop. Ons moes self die voertuig registreer en die koste dra, net om uit te vind dat dit nie die regte voertuig is wat op ons naam is nie, omdat die handelaar vir ons die verkeerde voertuig se vorms gegee het. Ons kry toe die regte vorms en is terug verkeersafdeling toe. Daar gekom hoor ons die kar moet nog deur die toets gaan. Terug na die handelaar. Hy sê toe hy sal dit uitsorteer, ek moet die voertuig by hom los. Die voertuig is toe in ‘n ongeluk, volgens hom was dit sy nalatigheid. Hy bied toe aan om die kar na ‘n vriend te neem om te laat afskryf en dan met die versekeringsgeld ‘n ander voertuig vir ons aan te skaf. Ek was nie hiervoor te vinde nie en het self paneelkloppers toe gegaan. Hy reël toe dat die derdeparty se versekering betaal vir die herstelwerk. Na ‘n eis ingedien is, vind die versekering uit dat hy verantwoordelik was vir die ongeluk en weier om die eis te betaal.
Hy weier nou om verantwoordelikheid te neem en ek is na ‘n prokureur. Hy keer my toe voor by die prokureur se kantoor, na ‘n geveg jaag hy weg met my kar en is ek polisie toe. Ek het probeer ‘n saak oopmaak by die polisie vir diefstal, aanranding en bedrog, want ons het steeds geen bewys dat die foutiewe kar nie meer op ons naam is nie, maar sê die polisieman agter die toonbank vir my, hy sal my nou nie kan help nie want: “It sounds like maybe it’s a civil matter, but actually I don’t know.” Die polisie het toe wel later ‘n saak geopen en die motorhandelaar is op Woensdag, 20 Julie, gearresteer en het die volgende dag in die hof verskyn. Ek vrees egter nou vir my en my gesin se veiligheid, aangesien my huis se sleutels in die kar was en ek dit nie teruggekry het nie. Kan iemand my met advies help oor wat my te doen staan?
Johann Lubbe

