Ds. Francois Davel verloor stryd
Ds. Francois Davel, die oud-leraar van die NG Kerk De Bruinpark, is gister (Maandag, 30 Mei 2011), op die ouderdom van 54, in die Unitas Hospitaal in Pretoria oorlede.
Ds. Francois en sy vrou, Wilma, het vir sowat 12 jaar ‘n groot rol in die gemeenskap van Ermelo gespeel. Verlede jaar Februarie het sy gemeente, sowel as die gemeenskap van Ermelo, hom en sy vrou gegroet toe hulle na Klerksdorp verhuis het.
Ds. Francois het in Februarie vanjaar ‘n hartklepvervanging ondergaan en daar is ‘n prostese in sy aorta geplaas. Sowat drie maande daarna is daar uitgevind dat hy infeksie in die hartklep gekry het, wat toe ‘n beroerte veroorsaak het. Die beroerte het die linkerkant van sy liggaam erg aangetas. Daar het ‘n abses op die nuwe hartklep ontwikkel, wat weer verwyder moes word. Die skade aan sy hartklep was egter te groot en hy is op Vrydag, 13 Februarie, weer geopereer om die hartklep te vervang. Ds Francois het egter kort daarna weer ‘n terugslag beleef, maar dit het verlede week, alhoewel hy nog in ‘n kritieke toestand in die intensiewe eenheid was, beter met hom begin gaan. Soveel so dat die doktors die respirator verwyder het en hy op sy eie begin asem haal het. Ds. Francois se beterskap was egter van korte duur, en hy is vroeg Maandagoggend (gister) oorlede. Die gemeenskap van Ermelo, en spesifiek sy familie, vriende en oud gemeentelede, is tot in hul fondamente geskud oor die afsterwe van hul geliefde eggenoot, vader, vriend en leraar - “Ds. Francois, jy gaan gemis word”. Ds. Francois laat sy eggenoot, Wilma, en hul drie kinders, Wilhelm, Hannelet en Christiaan, agter. Daar was nog geen begrafnisreëlings getref ten tye van ter perse gaan nie. Doktor Floris Dafel kan by 082 267 4447 geskakel word met navrae oor die begrafnisreëlings, wanneer dit beskikbaar word.
Wilma en die kinders wens om die volgende boodskap aan die gemeenskap van Ermelo deur te gee: “Baie dankie aan al ons vriende in Ermelo, wat ons in hierdie tyd bygestaan het, hetsy met oproepe, SMS’e, en veral jul gebede. Ons waardeer julle onderskraging en ondersteuning opreg”. Red.

