Voorblad laat my bloed kook
Ek is ‘n getroue leser van die Tribune en ek wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om die Tribune-span op die skouer te klop met hul puik voorbladartikel van verlede week. Ek het die voorblad een kyk gegee en besef hier kom groot moeilikheid. Ek het in my kamer gaan sit en rustig begin lees oor die myn skok van Ermelo. Teen die tyd wat ek die inleidingsparagraaf klaar gelees het, het my bloed gekook. Ek het dadelik op die telefoon gespring en my man gekontak om ons huis in die mark te sit. “Hier gaan ek nie bly nie” het ek hardop vir myself gesê. Nadat ek die belaglike nuus van die voorblad verder verwerk het, het dit gevoel asof my bloed in my are gaan stol van woede. Ek het beplan om Carte Blanche te skakel met die belaglike ondermyning wat Arabian Coal in ons dorp wil doen. “Wie dink hulle is hulle” het ek weer hardop met myself gepraat. Teen die tyd wat ek by die einde van die berig gekom het, was ek so woedend dat ek net vir die arrogante mnr. Kadar wou verwurg. Nadat ek die slot gelees het, en besef het dit was als net een groot leun, het ek dadelik gesit en die brief aan die Tribune getik. Julle het ‘n uitstekende voorblad gepubliseer en ek is seker julle het baie mense die duiwel in gehad. Julle kan julself gerus op die skouer klop. Dankie dat julle my bloeddruk opgejaag het, dit was alles die moeite werd.Annette

