Home News Sport News

Latest News

Popular

Sport

Bergfietse ry ‘Country’ plat

 

Verskeie Ermelo bergfiets-entoesiaste het onlangs die 40km half-marathon ‘Rapid Country Estate Mountain Bike Challenge’ aangedurf en goeie plekke behaal.  Die wedren is op die Stofbergpad anderkant Belfast gehou, en honderde inskrywings is getrek.
Christopher van der Merwe (19), Marco Roodt (20) en Greg Hodgskin (25) het in die  19-29 ouderdom-afdeling deelgeneem en die stowwerige paaie en heuwels aangepak.  Christopher het ‘n sesde plek behaal (algeheel 47ste), terwyl Marco tiende (algeheel 67ste) was en Greg het die twaalfde plek beklee (algeheel 78ste).
Christopher oefen tans hard vir die opkomende ‘Big Induna MTB Race’, wat op 11 Junie gehou gaan word. Christopher en Marco is ook hard aan die oefen om gedurende Desember aan die uitmergelende ‘24/Hour MTB Challenge’ in Alberton te gaan deelneem. LM

 

65 Eerstespan wedstryde vir Thabang

 

Ligbron Akademie vir Tegnologie se rugbyspanne het op Saterdag, 21 Mei, op hul tuisveld in die tweede wedstryd van die Mpumalanga Liga teen Hoërskool Hoogenhout van Bethal te staan gekom.
Die groot skare mense het vir Thabang Nkosi staande toegejuig toe hy opgedraf het vir sy 65ste eerstespan wedstryd vir die Liggies.  Thabang het in graad 9 as o/16 seun reeds sy eerste wedstryd vir die Liggies se eerstes gespeel.  Thabang het in 2010 vir die Mpumalanga Cravenweek span uitgedraf en is ’n kontrak aangebied deur die Sharks vir 2011.  Hy het egter besluit om sy matriekjaar by Ligbron te voltooi en is dan ook vanjaar opgeneem in die Pumas se o/19A-span.  Die skool wens ook om hierdeur vir hierdie puik seun geluk te wens met hierdie prestasie en hom te bedank vir die onbaatsugtige diens wat hy vir die skool gelewer het.
In ’n klipharde wedstryd kon die Liggies se eerstespan daarin slaag om Hoërskool Hoogenhout met ’n telling van 17-6 te klop.  Sindiswa Mbokane en Arnold Pretorius is elk beloon met ’n drie vir hulle harde werk.  Mpumulelo Gina het geslaag met ’n strafskop en twee doelskoppe.  Ligbron het een van hulle beter rugbydae teen Hoogenhout gehad en slegs die o/16A-span het met ’n telling van 12-9 verloor.  Die o/14A-span wen 48-10, die o/15A’s wen 11-5, die o/16B-span wen 25-20 en die tweedespan wen 19-5.  Hoogenhout se o/14B’s en o/15B’s het onttrek en Ligbron ontvang dus die ligapunte.
Ligbron speel eerskomende Saterdag teen Ermelo Hoërskool op die Erries se velde.  AS

 

Laerskool Ermelo blink uit op sportveld

 Laerskool Ermelo se rugby- en netbalspanne het op Dinsdag, 17 Mei, op Laerskool HM Swart se tuisveld kragte met hul opponente gemeet. Beide die netbal- en rugbyspanne het uitstekende prestasies gelewer en die dag se uitslae was soos volg: Rugby: die o/7 rammetjies wen 2-1, die o/8 rammetjies verloor 1-3, die o/9 span verloor 5-15, die o/10 span wen 10-5, die o/11 span verloor 5-12, die tweedespan wen 15-7 en die eerstespan verloor 7-34. Netbal: die o/7A-span wen 1-0, die o/7B-span wen 3-0, die o/8A-span wen 5-0, die o/8B-span wen 9-1, die o/9A-span wen 14-3, die o/9B-span wen 7-0, die o/10A-span wen 8-2, die o/10B-span wen 4-0, die o/11A-span wen 14-3, die o/11B-span speel gelykop 6 elk, die o/12A-span verloor 2-10, die o/12B-span verloor 5-10, die o/13A-span wen 12-7 en die o/13B-span verloor 6-9. MS

 

Erries seëvier teen Standerton

Die sportspanne van Hoërskool Ermelo het op Saterdag, 21 Mei, in Standerton, teen Hoërskool Standerton in die eerste wedstryde van die Mpumalanga-liga, te staan gekom. Die Erries het hulle goed van hulle taak gekwyt op die rugby- sowel as die hokkieveld. Alhoewel die o/14A- en o/15A rugbyspanne verloor het, vly die tellings Standerton. Die Erries was in albei wedstryde die meeste van die tyd op die aanval en het die opposisie teen die verloop van spel drieë gedruk. Die o/16's het ‘n harde gedissiplineerde wedstryd gespeel en so ‘n wen verseker. Die begeesterde eerstespan het ‘n harde stryd gevoer teen Standerton, terwyl Standerton verbete verdedig het tot net voor die eerste helfte verby was. Net voor die halftyd-fluitjie het die Erries daarin geslaag om 3 vinnige drieë te druk, een elk deur Dirk Novais, Niel Ziervogel en Wilmar Arnoldi. Die halftyd-telling was 23-10 in die Erries se guns. In die tweede helfte het Ghini Greyling en Jan Visser elkeen ‘n drie gedruk. Nico Froneman het met ‘n skepskop, 2 doelskoppe en ‘n strafskop geslaag, om ‘n wen te verseker vir die Erries met ‘n telling van 35-20. Die uitslae van die ander spanne was: o/14A verloor 5-17, o/14B wen 40-5, o/15A verloor 5-22, o/16A wen 22-3, o/16B wen 20-5, die derdespan wen 12-7 en die tweedespan verloor 0-16. Die hokkiespanne het gemengde welslae behaal en die tellings was soos volg: die o/14's verloor 0-5, die o/15A’s wen 3-0, die o/16A’s wen 4-0, die tweedespan speel gelykop 2-2 en die eerstespan verloor 0-4. Die spanne van Hoërskool Ermelo sal eerskomende Saterdag, 28 Mei, teen die spanne van Ligbron Akademie vir Tegnologie op EHS se velde te staan kom. AS

 

Errie seunshokkie witwarm

 Die eerste- en o/16 seuns hokkiespanne van Hoërskool Ermelo het op Dinsdag, 17 Mei, teen die spanne van Hoërskool Standerton te staan gekom. EHS se eerstespan het ‘n uitstekende vertoning van vaardighede en samespel gelewer. Hulle wen hul wedstryd oortuigend met ‘n puik telling van 12-1. Vusi Nkosi het daarin geslaag om 4 doele aan te teken, terwyl Adriaan Kotze 3 doele aangeteken het, Jakob Cilliers 2 doele, met Pieter Jansen van Rensburg, Sihle Mbatha, Tokozane Mahlango en Jan-Hendrik Jacobs wat elk 1 doel aangeteken het. Die o/16 span het nie op hulle laat wag nie en verslaan hul opponente net so oortuigend met 10-2. Wikus Rust het ‘n uitstekende wedstryd gespeel en 7 doele vir sy span aangeteken. Jaques Louw, Shaun Ernst en Nkoyane Daluxolo het elkeen 1 doel geslaan. AS

 
More Articles...
AddThis Social Bookmark Button